Indien jy een van Shakespeare se aanhangers is, sal jy weet dat sy karakters altyd een of ander swakheid het. Dit maak die verhaal interessant en dra spesifieke boodskappe oor. Dieselfde is waar van ons Bybelse held, Abraham. Wat was sy swakheid? Sy vrees. By twee geleenthede het Abraham aan sy vrees toegegee. Hy het geglo dat die regeerder hom sou doodmaak en sy vrou sou steel (Gen. 12:11-20; 20:2-13). Omdat hy bang was, het hy die Farao, sowel as koning Abimeleg, bedrieg deur te sê: “Sy is my suster.” Dit het daartoe gelei dat die Farao haar in sy harem ingeneem het (20:2). As gevolg van vrees, het hy byna God se plan om deur hom en Sara ’n groot volk tot stand te bring, verongeluk (Genesis 12:1-3). Maar voordat ons Abraham veroordeel, moet ons eers ’n paar vrae aan onsself stel. Indien ons ons werk kon verloor, sou ons ons integriteit opoffer? Sou ons bang wees dat ons as outyds beskou word en daarom ons beginsels prysgee? Sou ons uit vrees vir spot en kritiek nalaat om vir Jesus te getuig? Sou ons sodoende die redding van iemand in die wiele ry? Daar is net een ding wat vrees kan oorwin en dit is volhardende geloof in God se teenwoordigheid, beskerming, krag en beloftes. Indien vrees tans jou optrede beïnvloed en God se wonderlike planne in die wiele ry, onthou dat Hy nooit iets van jou sal vra wat Hy nie kan voleindig nie, al moet Hy ook op bonatuurlike wyse ingryp.