Op die eerste Februarie 1960 het vier nie-blanke studente van ’n nabygeleë kollege na ’n restaurant in Greensboro, in Noord Carolina gegaan en in die area vir blankes gereserveer, gaan sit. Franklin McCain het ’n ouer blanke dame bemerk wat daar naby hulle gesit en hulle dopgehou het. Hy was oortuig dat sy onvriendelike gedagtes teenoor hulle gekoester het omdat hulle so openlik teen segregasie opgetree het. ’n Paar minute later het sy opgestaan, na hulle toe gestap, haar hande op twee se skouers gelê en gesê: “Jongmanne, ek is trots op julle.” Jare later het McCain oor die Nasionale Radio gesê dat hierdie gebeure hom daaraan herinner het dat ’n mens nooit sommer ’n oordeel oor ander moet vel nie. In plaas daarvan moet jy ander mense in ag neem en ’n geleentheid soek om met hulle te praat. Gedurende die eerste eeu was die kerk ook baie verdeeld op grond van ras, taal en kultuur. Daarom het Paulus aan die Christene in Korinte geskrywe en hulle aangemoedig om diegene wat so op die verskille gefokus het te vermaan om nie net op die uiterlike te let nie (2 Kor. 5:12). Omdat Christus vir almal gesterf het, het Paulus verklaar: “Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie” (2 Kor. 5:16). Laat ons dus na die innerlike mens kyk, want ons is almal na die beeld van God geskep en nuwe skepsels in Christus.