Toe ek my 60ste verjaarsdag gevier het, het my perspektief op die lewe regtig verander. Ek het altyd gedink dat persone wat 60 is, “oud” is. Toe het ek begin dink oor hoeveel jare ek moontlik nog mag oorhê om produktief te wees en ek het tot die gevolgtrekking gekom dat 10 jaar miskien die waarskynlike is. Ek het aanhou om so te dink totdat ek met ’n medewerker van 85 jaar gepraat het en hom gevra het hoe hy die lewe gevind het nadat hy 60 geword het. Hy het my vertel dat die beste geleenthede wat die Here hom gegee het om diens te lewer, juis in die laaste 25 jaar van sy lewe gekom het. In Filemon 1 vers 9 verwys Paulus na homself as “’n ou man” en ek kan myself daarmee vereenselwig. “Ek, Paulus, wat ’n ou man is [doen] ’n beroep op jou in belang van my kind, Onesimus.” Daar is Bybelkenners wat van mening is dat Paulus tussen 40 en 50 jaar oud was toe hy hierdie brief geskryf het – en hy was beslis nie ’n ou man volgens vandag se standaarde nie. Maar natuurlik was die lewensverwagting in daardie dae baie korter as wat dit vandag is en ten spyte van sy ouderdom het Paulus die Here vir nog ’n hele paar jaar met ywer gedien. Terwyl ons miskien vandag allerhande fisiese tekortkominge en beperkinge mag beleef, is al wat regtig belangrik is, dat ons sal voortgaan om die Here te dien totdat Hy ons kom haal om huis toe te gaan.