Iemand het vriendskap so gedefiniëer: “Om die hart van ’n ander te ken en om jou hart vir ’n ander oop te maak.” Ons maak ons hart oop vir diegene wat ons kan vertrou en hulle wat vir ons omgee. Ons vertrou ons vriende omdat ons seker is dat hulle nie die inligting sal gebruik om ons skade aan te doen nie, maar eerder om ons te help. En hulle is seker dat ons ook so sal optree. Ons verwys dikwels na Jesus as ons Vriend omdat ons weet dat Hy net die beste vir ons verlang. Ons vertrou Hom en daarom maak ons ons harte vir Hom oop. Maar het jy al ooit daaraan gedink dat Jesus ook sy hart aan sy kinders bekend maak en hulle vertrou? Jesus het sy dissipels sy ‘vriende’ genoem en nie meer diensknegte nie, want Hy het hulle met alles vertrou, alles wat Hy van die Vader gehoor het (Joh. 15:15). Jesus het geweet dat hulle die inligting wat Hy aan hulle gee, tot voordeel van sy Vader se koninkryk sou gebruik. Alhoewel ons weet dat Jesus ons Vriend is, kan ons sê dat ons sy vriende is? Luister ons na wat Hy vir ons sê? Of wil ons net hê dat Hy na ons moet luister? Wil ons weet wat op sy hart is, of wil ons vir Hom vertel wat op ons hart is? Om ’n ware vriend van Jesus te wees, moet ons luister na wat Hy sê en daardie inligting gebruik om ander na Hom te lei.