Vroeg in die lente het ek en my vrou ’n fassinerende toneeltjie buite ons kombuisvenster gesien. Twee swartvoëls het met strooi in hulle bekkies ’n nou spleet in die huis langs ons s’n binnegegaan. ’n Paar weke later was ons verheug om vier klein voëltjies op te merk wat hulle bekkies by die spleet uitsteek sodat hulle deur Pappa en Mamma gevoed kan word. Toe ek die voëltjies se oop bekkies sien, het dit my herinner hoe belangrik dit is vir kinders van die Here om ook na geestelike voedsel te smag. In 1 Petrus 2:2 gebruik Petrus die beeld van kinders wat na geestelike voedsel verlang: “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk sodat julle daardeur kan opgroei.” Die Griekse woord wat in Engels met desire vertaal is, vertel van ’n intense verlange en begeerte. Dit kan ook smag na beteken. Dit mag vir ons vreemd voel dat ons beveel word om ernstig na iets te verlang. Maar anders as voëltjies of babatjies, moet ons daaraan herinner word dat ons geestelike kos nodig het. Al is ons in die verlede deur die Woord geestelik versterk en opgebou, moet ons steeds versterk en bemoedig word, sodat ons geestelik kan groei. Ons moet besef dat ons sonder geestelike voedsel nie sal vorder nie. Die Here is gretig om sy kinders te voed. Maak dan jou mond wyd oop!