In sy boek Through the Valley of the Kwai, beskrywe Ernest Gordon, ’n Skotse offisier, die lyding wat hy as prisonier gedurende die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het. Hy was ’n lang man, sterk en gesond, maar het malaria, witseerkeel, tifus, beriberi, buikloop en absesse in die konsentrasiekamp opgedoen en die harde arbeid en gebrek aan voedsel het sy gewig geweldig laat verminder. Die vullis in die kamphospitaal was so erg, dat hy gevra het hulle moet hom liewer na die dodehuis neem. Hy het daar in die vullis van die dodehuis gelê en gewag op die dood. Maar daar was ’n ander prisonier, ’n vriend, wat elke dag ingekom het om sy wonde te was, hom te bemoedig en sy karige kos met Ernest te deel. So het die stil en nederige Dusty Muller vir Ernest verpleeg en met die ongelowige Skot oor die Here gepraat en van sy geloof getuig. Hy het aan Ernest getoon dat daar hoop is, ja selfs te midde van die moeilikste omstandighede. Die hoop waarvan ons in die Bybel lees, is nie ’n vaë optimisme nie. Nee, die Bybelse hoop is sterk en daar is die sekere verwagting dat God dit wat Hy in sy Woord belowe het, sal doen. Lyding en beproewing is dikwels die manier waarop volharding, karakter en hoop teweeggebring word (Romeine 5:3-4). Sewentig jaar gelede het Ernest Gordon hierdie waarheid in ’n konsentrasiekamp geleer en gesê: “Geloof groei wanneer daar geen hoop buiten God is nie” (Rom. 8:24,25).