In ’n radio onderhoud is ’n basketbal superster gevra hoe hy dit regkry om altyd die wenhou in kritieke situasies te slaan en altyd so kalm te bly, selfs in daardie stresvolle oomblikke. Sy antwoord was dat hy probeer om die situasie te vereenvoudig deur daaraan te dink dat hy net een hou hoef te slaan – net een hou. Hy fokus op daardie een hou. Dis hoe ’n moeilike situasie vereenvoudig word. Fokus op dit wat voor jou lê en moet jou nie bekommer oor jou spanmaats of wat ander van jou dink nie. Vereenvoudig net die situasie. Jesus het besef dat lewensomstandighede soms vir ons, as mense, oorweldigend kan wees en daarom moedig Hy ons aan om sake te vereenvoudig. Hy sê: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matteus 6:34). Dit was Jesus se wyse raad aan ons wanneer ons geneig is om ons oor sake te bekommer. Bekommernis bring niks positiefs tot stand nie, dit laat ons net voel asof ons oorweldig word deur die probleme wat ons in die gesig staar. Ons moet sake hanteer soos hulle oor ons pad kom – een dag op ’n keer – en God vertrou om aan ons die wysheid te gee om die krisis te hanteer. Indien jy oorweldig voel deur die eise van die lewe, doen dit wat jy kan en laat die res in die hande van die Here. Onthou Jesus se woorde: “Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie” (Matteus 6:34).