Een Sondag, terwyl hy besig was om te preek, is ’n pastoor deur ’n man aangeval en met die vuis geslaan. Hy het egter aanhou preek en die man is gearresteer. Die pastoor het vir hom gebid en het hom selfs ’n paar dae later in die tronk besoek. Wat ’n voorbeeld van optrede teenoor iemand wat jou kwaad aangedoen het! Alhoewel selfverdediging in sekere opsigte toelaatbaar is, word wraakneming in die Ou Testament verbied. “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Sien ook Deuteronomium 32:35. Jesus en sy apostels het dit ook verbied. (Matteus 5:38-45; Romeine 12:17 en 1 Petrus 3:9) Die Ou Testamentiese wet het dit wel met die goedkeuring van die gereg toegelaat. Lees dit in Eksodus 21:23-25 en Deut. 19:21. Nogtans is daar gesorg dat die straf nie onregverdig of kwaadwillig is nie. Daar was egter ’n belangriker beginsel ten opsigte van persoonlike wraakneming: Geregtigheid moet geskied, maar dit moet in die hande van God, of die outoriteit deur Hom aangestel, gelaat word. In plaas van om wraak te neem wanneer jy verontreg of beledig word, laat ons God vereer en die Geesvervulde opsie neem: laat ons in vrede met almal lewe (Rom. 12:18) ons aan ’n geestelike tussenganger onderwerp (1 Kor. 6:1-6) en die saak in die hande van die outoriteite, en veral in God se hande, laat.