Toe die negentien jarige Amelia in die dokter se spreekkamer gesit het, is die bekende Hallelujalied “Saggies en Teer is die Roepstem van Jesus” in die agtergrond gespeel. Sy het met ’n glimlaggie teruggedink aan die pragtige lied en toe onthou dat die woorde ook van die skaduwees van die dood melding maak. Vir ’n oomblik het sy daaraan gedink dat dit miskien nie die regte lied vir ’n dokter se spreekkamer is nie. Daar is diegene wat hierdie lied as te sentimenteel beskou. Maar die kosbare boodskap van die koortjie kan regtig vir die afgedwaalde sondaar tot bemoediging wees. Kom tuis, kom tuis! Almal wat moeg is, kom tuis! Saggies en teer klink die roepstem van Jesus, Hy roep, o sondaar, kom tuis! Wanneer ’n gelowige God se wil verontagsaam en sy eie wil volg, het hy of sy van die Here afgedwaal en is die verhouding met die Here verbreek. Dis ’n onbenydenswaardige toestand en alhoewel ons dikwels toegee aan die eise van ons sondige natuur, is die Here altyd gereed om ons weer terug te verwelkom. As gevolg van sy liefde en genade wil Hy ons graag terugneem en ons “oortredings … in … [sy] groot barmhartigheid uitwis” (Ps. 51:3) indien ons Hom vra. Het jou hart en denke van jou Here afgedwaal? Jesus is steeds besig om na jou te roep en jou uit te nooi om na Hom terug te keer.