Gedurende 1860 het Thomas Inman geneeshere aanbeveel dat hulle nie medisyne voorskryf as hulle nie seker is dat dit sal werk nie. Hulle moes aan die pasiënt “die voordeel van die twyfel” gee. Hierdie uitdrukking is ook ’n wetlike term en dit beteken as ’n jurie nie eensgesind is nie en verskille van opinie het, moet hulle ’n uitspraak van “onskuldig” gee. Miskien kan ons, as Christene, ook hierdie mediese en wetlike uitspraak op ons verhoudinge van toepassing maak. Miskien nog beter – die Bybel leer ons om altyd die voordeel van die twyfel aan die ander persoon te gee. Ons lees in 1 Korintiërs 13:7 die liefde “bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Len Morris sê in die Tyndale New Testament Commentaries, die volgende oor die uitdrukking glo alles: “Om die beste in ander mense te sien, lief te hê … beteken nie dat jy alles moet glo nie, maar aan die ander kant dat jy nie altyd die slegste dink nie (soos dit gewoonlik in die wêreld gaan). Die liefde behou steeds die geloof. Liefde word nie sommer maklik bedrieg nie … maar dis altyd gereed om voordeel van die twyfel aan die ander te gee.” Wanneer ons iets negatiefs oor ander hoor, of agterdogtig oor iemand se optrede is, laat ons ophou om sommer voor die voet die slegste te glo. Laat ons nie oordeel of hulle dade goed of sleg is nie. Laat ons aan hulle “die voordeel van die twyfel” gee.