Onlangs het ek na die voorlees van ’n boek geluister – deur die skrywer self gelees. Dit het oor ateïsme gehandel en die skrywer se gemene en bittere sarkasme het my laat wonder waarom hy so kwaad was. Die Bybel leer ons dat as ons God verwerp kan dit geleidelik daartoe lei dat ons Hom begin haat. “En omdat hulle dit van geen belang geag het om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings … en hulle haat God” (Romeine 1:28,30). Om die rug op God te draai, lei nie net tot sekulêre neutraliteit nie. Inteendeel, onlangse militante ateïste het maar te duidelik aangetoon dat hulle graag enige verwysing na ’n Skepper uit die kultuur wil verwyder. Wanneer ons hoor van militante ateïste wat die Bybel en die Tien Gebooie uit die samelewing wil verwyder, is dit so maklik om kwaad te word en hulle haat met ons eie haat en aggressie te beantwoord. Maar ons word opgeroep om die kwaad met liefde te bestry. “Met vriendelikheid moet [julle] … teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring” (2 Timoteus 2:25). Die volgende keer wanneer jy iets lees of iemand met minagting van God hoor praat, toets jouself dan. Oordink jou gesindheid en vra die Here om aan jou ’n gees van nederigheid te gee en bid dan dat die oortreder tot kennis van die waarheid gebring word.