Indien daar iets soos ’n universële vraag is, mag dit moontlik die volgende wees: Is ons al daar? Geslagte kinders en jongmense het dit al gevra. Hulle het volwassenes geword en steeds dieselfde vraag gestel en hulle moet op hulle beurt weer die vraag beantwoord wanneer hulle kinders dit vra. Wanneer ek die boeke van Moses lees, wonder ek hoeveel kere Moses hierdie vraag gehoor het. Die Israeliete het hom gedurig lastig geval. Voordat hy hulle uit Egipte uitgelei het, het hy gesê dat die Here hulle na ’n land “wat oorloop van melk en heuning” (Eksodus 3:8) sou lei. God het, maar eers moes hulle veertig jaar in die woestyn deurbring. Dit was egter nie ’n gewone omwandeling nie. Na 400 jaar van slawerny het die kinders van Israel reiniging van hulle harte nodig gehad. Hulle harte, siele en verstand moes weer georiënteer en op God gevestig word. Dit is in die wildernis gedoen (Deuteronomium 8: 2 en 15-18), maar nie voordat ’n hele geslag vanweë hulle ongehoorsaamheid uitgesterf het nie (Numeri 32:13). Soms voel dit vir ons dat ons in sirkels wandel. Ons voel asof ons verlore is en dan wil ons die Here vra: “Is ons al daar? En hoe lank sal dit nog wees?” By sulke geleenthede moet ons onthou dat die reis en nie net die eindbestemming vir God belangrik is nie. Hy gebruik dit om ons nederig te maak, te toets en ons te wys wat in ons harte skuilhou.