Andreas was skepties oor die seuntjie se klein middagete van vyf broodjies en twee vissies. Hy sê aan Jesus: “Wat is dit (die vyf brode en twee vissies) vir so baie mense?” (Johannes 6:9). En tog het die klein maaltyd in Jesus se hande ’n groot seën geword en baie mense gevoed. Voordat jy dink dat jy niks het om te bied nie, dink hieraan: Edward Kimball, ’n Sondagskoolonderwyser in Boston, het besluit om ’n jong seun in sy klas te besoek om seker te maak dat hy ’n Christen is. Daardie spesifieke dag was dit sy voorreg om Dwight L. Moody na die Here te lei. Moody, die Billy Graham van die 19de eeu, het ’n besondere invloed op Wilbur Chapman gehad. Chapman het weer vir Billy Sunday gekry om hom met sy evangeliese dienste te help. Sunday het ’n bediening begin wat wonderlike resultate in stede soos Charlotte in Noord Carolina gehad het. ’n Organisasie wat as gevolg van die herlewing begin het, het die evangelis Mordecai Ham na Charlotte genooi. In een van daardie dienste het Billy Graham Christus as Saligmaker aangeneem en ’n prominente evangelis geword, wat ’n groot invloed in ons tyd uitgeoefen het. Wanneer jy weer dink dat jy niks het om te offer nie, onthou dan die Sondagskoolonderwyser Edward Kimball, wat ’n Saterdagmiddag deurgebring het om iemand in sy klas te bereik. God het ’n spesiale manier om ons getrouheid in klein dingetjies te gebruik om groot resultate te verkry.