Ek het gelees van ’n ma wat ’n vyf minute wet vir haar kinders gehad het. Hulle moes elke dag vyf minute voor die tyd byeenkom en gereed wees om skool toe te gaan. Hulle moes om hulle ma vergader en dan het sy vir elkeen van hulle by name gebid en die Here gevra om hulle die dag te seën. Sy het elkeen ’n soen gegee en dan kon hulle wegdraf. Selfs die bure se kinders sou by die proses ingesluit word as hulle toevallig daar sou opdaag. Een van die kinders het baie jare later getuig van wat sy alles deur hierdie ondervinding geleer het en hoe belangrik gebed tans in haar lewe is. Die skrywer van Psalm 102 het ook die belangrikheid van gebed besef. In die Engelse Bybel word hierdie Psalm die Prayer of the afflicted genoem. Die persoon is oorweldig en roep tot God en lê sy klag voor Hom neer. Hy roep uit: “Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp … verhoor tog gou my gebed” (vs. 2,3). Die Here “het uit sy heilige woning na onder gekyk en … gesien wat op die aarde gebeur” (Psalm 102:20). Die Here gee om vir jou en my en wil van ons hoor. Of jy nou die vyf minute wet navolg en bid dat God jou dié dag sal seën, óf dat jy nodig het om meer tyd in gebed deur te bring en in jou nood na Hom te roep, jou voorbeeld sal ’n groot invloed op jou gesin en diegene na aan jou, uitoefen.