Gedurende die 2009 voetbalseisoen van die Universiteit van Texas, het die agterspeler Colt McCoy, elke onderhoud wat na die wedstryd gevoer is begin deur God te dank vir die voorreg om te kon speel. Hy is egter vroeg in die seisoen in ’n belangrike wedstryd beseer en moes vanaf die kantlyn toekyk hoe sy span verloor. Na die wedstryd het hy ’n onderhoud met ’n televisie verslaggewer gehad. “Ek sou alles wat ek het gegee het om saam met my span op die veld te wees … Ek gee altyd aan God die eer. Maar ek vra nooit waarom dinge gebeur nie. God is in beheer van my lewe en ek weet, ongeag wat gebeur, ek staan op die vaste Rots.” Paulus het by baie geleenthede die wonderlike verlossing van die Here belewe, maar hy het nooit geëis dat dinge volgens sy wil moes verloop nie. Vanuit die tronk in Filippi skryf hy aan Timoteus: “Wat my betref, ek word alreeds as ’n drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur” (2 Timoteus 4:6). Party mense mag beweer dat Paulus nie sy lewensdoel bereik het nie en dat sy lewe as ’n mislukking geëindig het. Maar hy het dit anders ingesien: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Timoteus 4:7). Hy het vooruitgekyk na die kroon wat hy sou ontvang (vs. 7). Indien ons met die Here wandel, kan ons Hom loof vir sy getrouheid, ongeag of ons wen of verloor (vs. 8)! –