Sixteen Tons, geskryf deur Merle Travis en opgeneem deur Tennessee Ernie Ford, het gedurende die midde-vyftigs een van Amerika se geliefkoosde liedere geword. Dit was asof mense met hierdie steenkoolmyner kon identifiseer, die man wat gevoel het dat hy vasgevang is en nie in staat is om sy situasie te verbeter nie, hoe hard hy ook al probeer het. Die steenkoolmyners is gewoonlik in huise van die maatskappy gehuisves en hulle is betaal met scrip-koepons wat slegs in winkels wat deur die maatskappy besit is, gebruik kon word. Al word hy hemeltoe ontbied sou hy nie kon gaan nie, het die myner gesê, want hy is ’n besitting van die maatskappy. Hierdie gevoel van magteloosheid mag ons help om te verstaan hoe die Hebreërs tydens die 400 jaar van ballingskap in Egipte gevoel het. Toe Moses aan hulle gesê het dat God hulle uit Egipte sou uitlei, het hulle nie geluister nie “in hulle moedeloosheid oor die harde werk” (Eksodus 6:8). Hulle was so sonder hoop dat hulle nie kon opkyk nie. Maar toe het God iets vir hulle gedoen wat hulle nie vir hulleself kon doen nie. God se wonderbare verlossing van sy volk uit Egipte, is ’n voorafskaduwing van wat Hy vir ons deur die koms van sy Seun, Jesus Christus, gedoen het. “Dit was toe ons nog magteloos was” (Romeine 5:6) dat God Christus gestuur het om vir ons te sterf. Wanneer alles negatief lyk is ons, as Christene, nie moedeloos nie, as gevolg van die wonderlike genade van God.