Die psalmdigter het “talle benoude ervaringe” (Psalm 71:20) beleef en tog het hy steeds geglo dat God hom weer sou ophef (Revive). Die letterlike betekenis van hierdie woord is om iemand weer “tot lewe te bring.” Die digter gaan voort: “U het … my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.” Dan pleit hy: “Herstel my tog in my eer … Ek sal jubel … omdat U my gered het” (vs. 20,23). Hy glo dat al sou die probleme nie hier op aarde ophou nie, sou dit wel in die hemel gebeur. Hierdie wonderlike gedagte dat ons eendag in God se teenwoordigheid sal wees en ons altyd in sy liefde sal verbly, word in baie Psalms beklemtoon. Dis ’n besondere troos vir ons te midde van die probleme wat ons daagliks omring. Lees Psalms 16, 17, 49 en 73. Miskien weet niemand anders van jou probleme nie, maar onthou, dis nie al wat sal gebeur nie. Eendag sal jou Vader wat jou “talle benoude ervaringe” laat beleef het, jou “weer wegruk uit die mag van die dood” en “saam met die lier … tot [sy] eer laat sing.” Sy teenwoordigheid sal vir jou volkome rus en vrede verseker. Richard Baxter skryf: “O wat ’n geseënde dag sal dit wees wanneer ek op die strand sal staan en terugkyk oor die ruwe oseaan waardeur ek veilig gevaar het. Wanneer ek my hartseer en pyn sal oordink, my vrese en trane, sal ek jubel in die heerlikheid wat die einde van dit alles is.”