’n Paar jaar gelede het ’n vriend van my ’n uitstalling van oorblyfsels van die berugte Titanic gaan bekyk. Elke besoeker het ’n kaartjie gekry waarop die naam van een van die passasiers of bemanningslede aangedui was. Nadat die toergroep deur die uitstalling gestap het en al die silwerstukke, eetgerei en ander oorblyfsels besigtig het, het die toer op ’n baie besondere manier geëindig. ’n Groot kennisgewingbord het die name van al die passasiers en die bemanning aangedui, eersteklas en tweedeklas. Terwyl my vriend die naam gesoek het van die persoon wie se kaartjie hy gehou het, het iets besonders hom getref. Bokant die lyn was dié woord Gered geskryf en onderkant die lyn, Verlore. Hierdie parallel ten opsigte van ons lewe hier op aarde, is besonder treffend en het my diep geraak. Dit maak nie saak wat die wêreld van jou dink of wat jou status hier op aarde is nie, die enigste ding wat regtig saakmaak is of jy gered of verlore is. Daarom het Jesus gesê: “Wat sal dit mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?” (Matteus 16:26). Die Ou Vertaling sê: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” Miskien het jy alreeds die Here Jesus as Verlosser aangeneem. Maar wat van jou mede-passasiers? In plaas van om hulle net uiterlik te beskou, praat met hulle oor hulle ewige bestemming.