Jare gelede het ek die aanbiddingsdiens in die kerk beskou as ’n geleentheid om myself te geniet. Sören Kierkegaard sê dat mense soos ek skynbaar die kerk as ’n teater beskou, ’n plek waar ons vermaak word. Ons sit in die gehoor en hou die karakters op die verhoog dop. Indien ons genoeg vermaak is, sal ons selfs hande klap om ons dank te betuig. Die kerk is egter heel anders as die teater – altans dit behoort te wees. God is die gehoor vir ons aanbidding. Wat belangrikste is, is wat in die harte van die gemeente aangaan en nie wat op die verhoog gebeur nie. Ons behoort die erediens te verlaat nie met die vraag: “Wat het ek vandag uit die diens gekry” nie, maar eerder “was God tevrede met dit wat in die diens plaasgevind het?” Die Here het moeite gedoen om in Ou Testamentiese tye voorskrifte te gee vir die diereoffers wat die Israeliete moes bring. Nogtans het Hy gesê dat Hy nie hulle diere nodig gehad het nie. “Ek wil geen jong bul uit jou stal hê of bokke uit jou krale nie, want al die diere in die bos is Myne, die wild op duisende berge” Psalm (50:9,10) Wat Hy wou gehad het, was hulle lofprysing en gehoorsaamheid (vs. 23). Indien ons op die uiterlike vorm van aanbidding fokus, verstaan ons nie wat God waarlik verlang nie. Die Here vra die offer van ons harte, ’n nederige houding, en ’n dankbare hart. Die doel van aanbidding is niks meer as om God te loof en Hom te behaag nie.