Elke nou en dan raak my rekenaar deurmekaar, veral as dit baie gebruik word. Dan word sekere programme en dokumente uitmekaar gedryf en dan moet daar gesoek word om die inligting weer byeen te bring. Om dit weer te herstel, moet ek ’n sekere program gebruik wat die verskillende stukke byeenbring en groepeer waar hulle maklik gekry kan word. Hierdie proses word defragmentasie genoem. Soos my rekenaar, raak my lewe ook soms deurmekaar en gedefragmenteer. Een situasie speel op my emosies, terwyl ek probeer om op iets anders te konsentreer. Eise word aan my gestel en ek wil so graag alles doen wat gedoen moet word, maar my gedagtes dwaal en my liggaam wil nie reageer nie. Gevolglik voel ek moeg, hopeloos en nutteloos. Onlangs het ek ’n byeenkoms bygewoon waar ’n pamflet uitgedeel is. Dit het ’n gebed ingesluit wat presies beskryf het hoe ek voel: “Here, ek is deurmekaar, rusteloos en slegs gedeeltelik hier.” Koning Dawid het dikwels sulke situasies beleef (Psalm 55:3). In sy gebede, soggens, middag en saans, het Dawid sy behoeftes aan God bekend gemaak in die sekere wete dat hy gehoor sou word (Psalm 55:18). Gebed kan help om die defragmentasie in die lewe op te los. Wanneer ons ons laste en bekommernisse op die Here werp, sal Hy ons wys wat ons moet doen en wat net Hy kan doen.