Indien jy my vra wie ek is, sou ek sê dat ek ’n Christen is. Maar ek moet bely dat dit ’n uitdaging is om Hom te volg. Sy opdragte is moeilik om uit te voer, soos om my te verheug wanneer ek vervolg word (Matteus 5:11-12); die ander wang te draai (vs. 38,39); te gee aan iemand wat iets van my vra (vs.42); my vyande lief te hê, dié wat my vervloek te seën en goed te doen aan diegene wat my haat (vs. 43,44). Daardie lewensstyl lyk vir my bykans onmoontlik. Maar gaandeweg het ek begin insien dat die Here nie onderstebo is nie – maar dat ek is. Ons word almal as sondaars gebore. Omdat ons deur sonde besmet is, is ons eerste instinkte altyd verkeerd, wat tot probleme aanleiding gee. Ons is byna soos roosterbrood waarop ’n dik laag jellie gesmeer is en wat onderstebo op die kombuisvloer geval het. Alleen gelaat kan ons ’n groot gemors maak. Maar dan kom Jesus en skraap ons van die vloer van ons sondige lewe af op, en keer ons om. En as ons sy omgekeerde weë volg, ontdek ons dat dit nie so moeilik is om die ander wang te draai nie en dat dit ons help om onsself uit ’n ongemaklike situasie te bevry. Ons ontdek dat dit beter is om te gee en aan die eie-ek te sterf, as wat dit is om te ontvang. Want per slot van sake is ons “optrede nie soos … [Syne] nie” (Jesaja 55:8). Ek het tot die slotsom gekom dat sy weë altyd die beste is!