Sy gesig was vuil, sy hare lank en onversorgd en hy het na bier geruik. Toe hy die kerk binnegestap het, het die aanbidders wat Sondae in die kerk sit, hom geïgnoreer. Hulle was stomgeslaan toe die man na vore stap, sy pruik afhaal en begin preek. Met ’n skok het hulle besef dat dit die prediker was, Ek weet nie van julle nie, maar ek groet altyd diegene wat ek ken en wat goed en netjies voorkom. Ek is nogal geneig om ander te ignoreer. Jakobus het ’n baie ernstige waarskuwing aan gelowiges soos ek gerig. Hy het verklaar: “As julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders” (Jakobus 2:9). Voortrekkery gebaseer op uiterlike voorkoms en ekonomiese status, het geen plek in die familie van God nie. Dit beteken dat ons “onder mekaar onderskeid gemaak [het] en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel het” (Jakobus 2:4). Gelukkig kan ons onsself teen hierdie sonde beskerm deur ons naaste so lief te hê as wat ons onsself het – ongeag wie die naaste mag wees. Om na die hawelose man, die honger vrou of die gebroke, verwarde tiener uit te reik beteken dat ons “die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan” (Jakobus 2:8). In ’n wêreld waar die verstoteling op ’n afstand gehou word, laat ons nederig wees, die liefde van Christus openbaar en uitreik na diegene wat ons hulp die meeste nodig het.