Jack en Trisha was laat een nag onderweg na die hospitaal vir die geboorte van hulle tweede kindjie. Onverwags het iets dramaties gebeur. Trisha het begin om geboorte te skenk! Desperaat het Jack 911 geskakel en Cherie White, ’n krisisbeampte, het aan hom verduidelik hoe om die geboorte te hanteer. Toe die baba gebore is, wou die baba nie asemhaal nie. Cherie het aan Jack verduidelik hoe om mond tot mond asemhaling toe te pas en hy moes vir 6 gespanne minute daarmee volhou. Eindelik het die baba begin asemhaal en gehuil. Toe hulle gevra is hoe hulle die krisis kon hanteer, het Cherie geantwoord: “Ek is net dankbaar dat God ook teen middernag werk!” Ek hou daarvan om verslae in die media te hoor waarin berig word hoe God in situasies ingegryp het en dat die eer aan Hom gegee word. In ons Skrifgedeelte vandag is dit duidelik dat God die eer moes kry omdat Hy die Rooi See oopgemaak het, al was dit Moses wat sy staf opgelig het. Op hierdie wyse kon God se volk uit die hande van die Farao ontvlug (Eks. 14:26,27). Al die Israeliete het om Moses vergader en saam het hulle die lof van God besing: “Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer” (Eks. 15:11). Wanneer iets goeds met ons gebeur, behoort die Here die eer te ontvang, want Hy is die bron van alles wat goed is. Is jy nie ook dankbaar dat die Here selfs teen middernag nog werk nie?