Die eertydse filosoof, Aristotle, het gesê: “Die natuur verafsku ’n vakuum.” Aristotle het sy gevolgtrekking gebaseer op die feit dat die natuur vereis dat elke spasie gevul moet wees, al is dit ook met iets soos kleurlose en reuklose lug. Dieselfde beginsel geld ook vir die geestelike lewe. Wanneer die Heilige Gees begin om ons van sonde te oortuig, dink ons dadelik dat ons ’n verbeteringsplan nodig het. Ons probeer so hard as wat ons kan om al ons slegte gewoontes af te lê en probeer desperaat om onsself te verbeter. Maar elke poging om van onrein gedagtes, houdings en begeertes ontslae te raak sal misluk, omdat daar dan ’n vakuum in ons siel gevorm sal word. Sodra ons onsself van een sonde leegmaak, kom ander na vore om die plek van daardie een in te neem. Op die ou end eindig ons dan net so sleg of slegter af as toe ons begin het. Indien ons aan ’n vakuum dink, help dit ons om te verstaan wat Paulus aan die Efesiërs gesê het toe hy gebid het dat Christus deur die geloof in hulle harte sou woon, dat hulle die “liefde van Christus” sou leer ken en dat hulle “heeltemal vervul [sou] word met die volheid van God” (Efes. 3:19). Hy het geweet dat die vakuum gevul moet word. Die enigste permanente oplossing vir die probleem van sonde, is om dit met die liefde van Jesus te vervang. Daardie liefde sal die vakuum vul. Hoe meer ons met Jesus se liefde vervul is, hoe minder plek sal daar vir die bose wees.