G. K. Chesterton het ’n kort biografie van St. Francis van Assisi geskryf en daarin gee hy ons ’n kykie in die lewe van hierdie unieke en deernisvolle man wat in die 12de eeu na Christus geleef het. “Soos St. Francis nie die mensheid liefgehad het nie, maar die indiwidu, so ook het hy nie die Christelike geloof liefgehad nie, maar vir Christus … Die leser kan nie begin om hierdie verhaal te verstaan – die storie wat vir die leser eintlik onbegryplik klink, totdat hy besef dat sy godsdiens nie vir St. Francis ’n teorie was nie, maar ’n liefdesverhouding.” Toe Jesus gevra is wat die grootste gebod in die wet is, het Hy geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod” (Matt. 22:37,38). Die persoon wat die vraag gestel het, wou Jesus toets, maar die Here het hom met die belangrikste vereiste geantwoord, die aspek wat vir God verblydend is. In die heel eerste plek is ons verhouding met God ’n saak van die hart. Indien ons die Here as ’n slawedrywer en ’n strenge Meester sien en gehoorsaamheid aan Hom as ’n sware las beskou, dan het ons aangesluit by die geledere van die mense van wie Hy sê: “Ek het dit teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie” (Openbaring 2:4). Die weg na ware vreugde en vrede is om die Here met jou hele hart lief te hê.