Daar is min wat nuwe werkers so ontmoedig as voortdurende kritiek en teregwysing van senior personeel. Goeie bestuurders wat werkers in diens neem, besef dat hulle nuwe personeel van goeie mentors moet voorsien, sodat hulle teen onnodige teistering en kritiek beskerm kan word. Hanna is vir Christene ’n mentor wat ons help om kritiek en ons hartsbegeertes te beheer (1 Samuel 1: 1-18). Hanna se eggenoot was onverstandig en onsimpatiek, sy ander vrou, Pennina, was onbedagsaam, en boonop was die leraar aanvanklik krities. Hanna het egter deur die krisissituasie gekom deur op die Here te vertrou. Sy het met trane gebid en haar diepe verlange vir ’n kind, aan Hom bekendgemaak. Dit het Eli geraak maar ons weet nie of sy seën (vs. 17) ’n wens of ’n belofte van God was nie. Nogtans het Hanna vrede gevind omdat sy God vertrou het. Ons is geskape om in ’n verhouding met God te staan. As ons daardie verhouding ernstig opneem, verbind dit ons nie alleen aan sy krag nie, maar ook aan sy teenwoordigheid. Ons gebed, wat ons hartseer uitbeeld, is welkom by Hom, want dit toon aan Hom dat ons Hom vertrou en glo dat Hy kan voorsien. Dan sal ons die regte perspektief vind en meeste van die tyd vertroos en versterk uit die situasie kom, omdat ons weet dat ons alles wat ons pla, ons hartseer en die kritiek teen ons, aan die Een wat alles beheer, kan oordra. Ons weet dat Hy die probleme kan uitsorteer en vir ons sal onderneem, soos Hy vir Hanna onderneem het.