Het jy gehoor van die kerk wat nie genoeg ruimte vir parkering gehad het nie? Gelukkig was dit langs ’n inkopiesentrum, wat Sondae gesluit was, geleë. ’n Lidmaat het die eienaar gevra of hulle nie van die ruimte gebruik kon maak nie. “Geen probleem nie,” het die man gesê. “Julle kan dit 51 weke in die jaar benut, maar die 52ste week sal dit gesluit wees.” Die lidmaat was dankbaar, maar vra toe: “Wat gebeur daardie week?” Die eienaar glimlag en sê: “Niks nie. Ek wil net hê julle moet onthou dat dit nie julle parkeerruimte is nie.” Dis so maklik om al die materiële en geestelike seëninge wat die Here aan ons gee as vanselfsprekend te aanvaar. Daarom is dit nodig dat ons soms tot stilstand moet kom en onthou dat die ware Eienaar van alles wat ons besit, eintlik die Here is. “Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in hemel en op aarde” (1 Kron. 29:11). Ja, selfs ons liggame behoort nie aan ons nie: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie … julle behoort nie aan julleself nie” (1 Kor. 6:19,20). 1 Timoteus 6:17 herinner ons dat dit “God [is] wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” Ons is so oorvloedig geseën. Laat ons dus nooit ons hemelse Vader as vanselfsprekend beskou nie, en alles wat Hy aan ons gee met wysheid en dankbaarheid benut.