Toe my vrou oor die verloop van die dag nagedink het, het sy ’n insident onthou wat gebeur het, waarby ons kleindogter, Eliana, betrokke was. Sy het die dag by ons gekuier en het in die sitkamer met ’n klompie speelgoed gespeel. Toe sy opgestaan het en na ’n ander kamer wou gaan, het haar ouma gesê: “Eliana, jy moet eers jou speelgoed bêre.” Sonder om ’n oomblik te huiwer het Eliana gesê: “Ek het nie tyd nie!” Sy was destyds maar net twee jaar oud en dus het sy beslis nie ’n besige program gehad nie. Ek wonder somtyds of die Here nie miskien verbaas is wanneer Hy ons reaksie op sy bevele sien en hoor nie. Byvoorbeeld wanneer Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is” (Matt. 11:28) en ons antwoord: “Ek kan nie nou kom nie, ek het te veel probleme en moeilikhede,” wonder ek regtig wat die Here van ons dink. Wanneer Hy sê: “Bedaar en erken dat Ek God is” (Psalm 46:11) dan sê ons: “Ons kan U nie in ons skedule inpas nie.” Dan wonder ek weer wat Hy van ons dink. En as Hy sê: “Wees heilig want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16) reageer ons: “Maar die wêreld bied soveel plesiere en genot.” Ja, wat sou die Here van ons optrede dink? God het gepraat en gehoorsaamheid is die beste manier om Hom te eer vir wat Hy gedoen het. So kan ons aan Hom toon hoe dankbaar ons is vir sy genade en hoe lief ons Hom het, Hy wat vir ons gesterf het.