Gedurende ’n geestelike sessie tydens ’n konferensie, het die leier ons gevra om 1 Korintiërs 13 verse 4 tot 8 hardop te lees en elke keer die woord “liefde” met die woord “Jesus” te vervang. Dit het so natuurlik geklink om te sê: “Jesus is geduldig; Jesus is vriendelik, Jesus is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie … Jesus handel nie onwelvoeglik nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie … Jesus vergaan nooit nie.” Toe vervolg hy. “Herhaal weer die gedeelte, maar plaas jou naam op elke plek in plaas van Jesus s’n.” Ons het almal senuagtig gelag. “Ek wil hê julle moet dit nou doen,” het hy gesê. Saggies en stotterend het ek die woorde gesê, wel wetende dat dit nie regtig waar is nie: “David soek nie sy eie eer nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie … verbly hom nie oor die onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. David glo alles, hoop alles verdra alles.” Die optrede het my laat wonder: “Hoe verhinder ek die Here om sy liefde deur my aan ander oor te dra? Dink ek miskien dat ander aspekte van geloof belangriker as liefde is? Paulus het duidelik verklaar dat die gawe van profesie, kennis en selfs geloof en selfverloëning niks beteken, as dit nie deur liefde vergesel word nie (1 Kor. 13:2,3). Die Here wil sy groot liefde aan ander deur ons openbaar. Sal ons Hom toelaat om dit te doen?