Leonard Ravenhill (1907-1994), ’n Britse evangelis het eenmaal gesê: “Die grootste wonderwerk wat God vandag kan doen, is om ’n onheilige man uit ’n onheilige wêreld weg te neem, hom heilig te maak en hom dan weer in die onheilige wêreld terug te plaas en hom daar heilig hou.” Dis wat God met Jesaja gedoen het toe Hy hom geroep het om met die volk te praat. Kort voor die dood van Ussia, een van Juda se suksesvolle konings, het Jesaja ’n visioen van God gehad. Hy het God gesien as die ware Koning van die heelal wat op ’n hoë troon sit. In die visioen het hy gesien hoedat serafs die Here aanbid en sy heiligheid, majesteit en heerlikheid besing. Jesaja se visioen van God het hom ’n ware beeld van homself gegee en hy het besef dat hy onheilig is. Gebroke het hy uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore!” (Jes. 6:5). Hierdie sondebesef het gelei tot belydenis en die wete dat hy God se genade nodig het (vs.7). En nadat hy gereinig is, het Jesaja die opdrag ontvang om die boodskap van verlossing uit te dra (Jes:6:9). God het Jesaja na ’n sondige wêreld uitgestuur. Hy moes nie net self heilig lewe nie, maar ook ander oproep tot heiligheid en hulle van die heilige God vertel. God wil Homself aan ons openbaar, sodat ons ’n ware beeld van onsself kan sien en besef hoe nodig ons sy genade het, sodat ons vir hom kan lewe. Wat ’n wonderwerk!