Gedurende ’n onderhoud, het ’n beroemde spreker bely dat sy duisende rande en honderde ure elke jaar spandeer, om haar hare na haar smaak te stileer. Sy het erken dat dit by haar ’n verslawing geword het en dat sy nie daarvan kan loskom nie. Sy kon haarself nie “van hierdie verslaafdheid bevry nie.” Die woord onderwerping beteken om “jouself onder die beheer van iemand anders” te stel. Vanweë haar begeerte en dringende verlange om mooi te lyk en te voel, het sy toegelaat dat haar hare haar hele lewe reguleer. Hierdie dame se verhaal laat ons onwillekeurig wonder hoe dit met ons hartsbegeertes gesteld is. Begeer ons somtyds so desperaat om iets te verkry, dat ons enigiets sal doen om dit te bekom? Is ons miskien so besig om eer en erkenning na jaag, dat ons onverantwoordelik optree? Wat van besittings, geld, kos of plesier? In sy brief aan die Romeine waarsku Paulus: “As julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is” (Rom. 6:16). Wat van die “selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed” (Jak. 4:1). Nee, ons moet onsself aan God onderwerp en “in diens van God” besig wees (Rom. 6:22). Om onsself “in nederigheid” aan God te onderwerp (Jak. 4:10) en Hom te vra om ons hart aan ons te openbaar, sal ons help om die probleem met onderwerping raak te sien.