Die Nobelprys word jaarliks toegeken aan persone wat op een of ander terrein ’n besondere impak gemaak het. Leiers op die terrein van die ekonomie, geneeskunde, literatuur en bevordering van vrede word geëer vir wat hulle gedoen het en hulle bydraes tot die samelewing. Wanneer iemand die Nobelprys ontvang, is dit die finale beklemtoning en bevestiging van jare se opleiding, selfopoffering en volharding – beleggings wat die bron van hulle impak is. Miskien wil ons ook graag ’n beduidende impak op geestelike terrein maak, maar dan wonder ons: Wat is die bron van geestelike bedieningskrag? Indien ons ’n besondere impak vir Christus wil maak, wat moet ons doen en waarin moet ons belê? Christus se volgelinge het hulle krag gevind deur tyd met Jesus deur te bring. Israel se geestelike leiers het dit maar te goed besef. Ons lees in Handelinge 4:13 die volgende: “Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.” Opleiding en oefening is waardevol in diens van die Meester, maar niks is beter as om tyd in sy teenwoordigheid deur te bring nie. Hy is die bron van enige geestelike impak wat ons in hierdie wêreld mag hê. Hoeveel tyd het jy onlangs met Jesus, jou bron van krag, deurgebring?