Dit word vertel van ’n gesin wat ’n piekniek by ’n meer gehou het. Op een stadium het hulle vyfjarige seun in die water ingegaan, in ’n diep gat getrap en uit die gesig verdwyn. Nie een van die volwassenes kon swem nie en desperaat het hulle heen en weer gehardloop, terwyl die seuntjie wanhopig gespartel en geskreeu het. Op daardie oomblik het ’n man daar verbygegaan, gesien wat aan die gang is, die water ingegaan en die seuntjie gered. Hy het met die kind in sy arms aan wal gegaan. Die seuntjie was ongedeerd, net getraumatiseer. Geïrriteerd het die ma gevra: “Waar’s Johnny se pet?” So dikwels fokus ons op die klein teleurstellings en murmureer en kla, in plaas van om al die positiewe dinge wat God vir ons gedoen het, raak te sien. Ons dink nie aan sy ewigdurende liefde en die ewige redding wat Hy vir ons bewerk het nie. Wanneer ons oor al die klein dingetjies in die lewe murmureer, is ons as ’t ware besig om te vra: “Waar is Johnny se pet?” Paulus skrywe: “Wees in alle omstandighede dankbaar” (1 Tess. 5:18). Ons mag miskien nie dankbaar wees vir alles wat oor ons pad kom nie, maar ons kan die Here nogtans vir alles dank. Dit mag moeilik wees om die Here te dank as jy jou werk verloor het of jou gesondheid ingee, maar ons kan nogtans dankbaar wees vir al die goeie dinge wat God ons in hierdie lewe gee en die belofte van die ewige lewe.