Nadat ons vliegtuig op die gruis vliegveld geland het, het Jay en ek uitgeklim en die wêreld van die Masai Mara in Kenia betree. ’n Masai krygsman met die naam Sammy het ons ontmoet, ons bagasie op ’n jeep gelaai en ons na die kamp geneem waar ons die volgende twee dae sou deurbring. Langs die pad het ons stilgehou en gekyk hoe die troppe sebra’s en wildebeeste vanaf Masai Mara na Serengeti trek. Sammy verduidelik toe aan ons dat die twee troppe altyd saamtrek omdat die sebra’s goed kan sien, maar nie ’n goeie reuksintuig het nie en die wildebeeste weer ’n goeie reuksintuig het, maar nie goed kan sien nie. Deur saam te trek, is albei groepe beter teen roofdiere beskerm. Dit was ons eerste les van dit wat God in die skepping openbaar, lesse wat oorvloedig in Kenia voorkom. Net soos die Here diere met verskillende eienskappe geskape het, het Hy ons ook met swakhede en sterk punte geskep. God het dit so beskik dat ons nie net van Hom afhanklik is nie, maar ook van mekaar. Paulus het hierdie waarheid verder in sy brief aan die Korintiërs uiteengesit. As lede van die liggaam van Christus het ons almal verskillende gawes en talente (1 Kor. 12:12-31). Die kerk van Christus kan slegs sterk en gesond wees as ons almal saamwerk, na mekaar omsien en ons kragte en talente gebruik om mekaar te ondersteun en te help. Is dit nog waar van die kerk?