Dwight L Moody, het gesê: “Wanneer ’n man dink dat hy sterk is en baie selfvertroue het, kan jy maar seker wees dat hy tot ’n val sal kom. Dit mag jare wees voordat dit gebeur en aan die lig kom, maar dit het alreeds begin.” Dis presies wat met koning Ussia gebeur het. Oënskynlik het alles so goed gegaan. Hy was gehoorsaam, bereid om homself aan geestelike mentorskap te onderwerp en hy het God se leiding gedurende baie jare van sy regering gesoek. God het hom suksesvol gemaak en dit word bewys deur die baie besondere dinge wat hy tot stand gebring het (2 Kron. 26:3-15). Ussia se lewe was baie suksesvol en hy het groot mag gehad, totdat hy verblind geraak het deur sy prestasies. Sy hoogmoed het op verskillende maniere sigbaar geword. So het hy byvoorbeeld God se heiligheid aangetas toe hy in die tempel oortree het en ’n posisie wou inneem waarop hy nie geregtig was nie (vs 16). Hy het God se mag as iets goeds beskou, maar nie noodsaaklik vir sy leierskap nie en geweier om teregwysing te aanvaar (2 Kron. 26:5, 16). Hy het die geleentheid om hom te bekeer laat verbygaan, en die gevolge van sy dade geïgnoreer en dit nie gevrees nie (vs. 18-19). Wanneer die Here aan ons baie sukses op sekere terreine van die lewe gee, laat ons nie vergeet waar die sukses vandaan kom nie. Laat ons nederig wees, want God betoon genade aan die nederige.