’n Nuwe program vir mediese studente in New York, wat besig is om te studeer hoe om geriatrie (probleme insake ouderdom) te hanteer, bied aan hulle unieke, nuwe moontlikhede. Hulle word vir 10 dae in verpleeginrigtings opgeneem, sodat hulle kan leer van die probleme waarmee pasiënte te kampe het, hoe om rolstoele te hanteer, om pasiënte in die bed op te lig met behulp van ’n hyser en hoe om in ’n sittende posisie te stort. Een student het geleer dat klein dingetjies baie kan beteken, soos byvoorbeeld om die naam-plate aan deure laer vas te sit sodat pasiënte hulle kamers makliker kan kry en om die televisie se afstandsbeheer nader aan hulle te plaas. Alhoewel dit nie beteken dat studente nou volledig met die bejaardes kan identifiseer nie, sal hulle tog hulle werk in die toekoms beter kan verrig. Somtyds gee die Here ons die geleentheid om die lesse wat ons geleer het en die troos wat Hy ons in moeilike tye gegee het, aan te wend om ander te help. Paulus verwys hierna toe hy skryf: ”Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer” (2 Korintiërs 1:3-4). Gebruik jy die lesse wat jy in jou beproewings geleer het, om ander aan te raak? Onthou – selfs klein dingetjies kan baie beteken.