Neuse wat opgetrek is en saam geperste lippe – dikwels is dit my familie se reaksie wanneer ek kook en ’n nuwe resep uitprobeer. Onlangs het ek egter ’n deurbraak gemaak toe ek ’n nuwe resep vir makaroni en kaas probeer het. Ek het al die bestandele neergeskryf, ook die metode, sodat ek dit in die toekoms weer kan gebruik. Ek weet maar te goed dat ek sonder die resep nie sukses sal hê nie. Sonder God se instruksies sou Josua misluk het in sy poging om die volk die Beloofde land in te lei. Die eerste stap was om “sterk en vasberade” (Jos.1:6) te wees. Verder moes hy ’n punt daarvan maak om gereeld die Wetboek te bestudeer en alles te doen wat in die Wetboek beveel is. Solank as wat Josua hierdie riglyne gevolg het, het God belowe dat hy sukses sou hê (Jos. 1:8). God se “resep vir sukses” kan vir ons ook werk, maar sy sukses het min met geld, populariteit en goeie gesondheid te doen. In die oorspronklike Hebreeus beteken “dan sal jy voorspoedig wees” dat jy “sal … slaag in wat jy moet doen”. Net soos die Here vir Josua geroep het om met wysheid op te tree en so te wandel, wil Hy dat ons “baie versigtig” sal lewe, “nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges” (Efes. 5:15). Namate ons op die Here vertrou, sy Woord bestudeer en gehoorsaam, het ons ’n resep vir sukses wat beter is as enigiets wat ons self kan bereik.