Baie kerke vier op die eerste Sondag in Oktober Wêreldgemeenskapsdag. Dit is ’n spesiale geleentheid om Nagmaal, saam met broers en susters in Christus dwarsdeur die wêreld, te vier. Om op hierdie dag saam met ander kinders van die Here te vergader het vir my baie betekenisvol geword. Een jaar egter het ek myself op ’n lughawe bevind, ’n lang vlug wat voorlê en geen moontlikheid om saam met ander gelowiges te vergader of ’n diens by te woon nie. Ek het alleen gesit en uit my Bybel die verslae van die laaste Nagmaal wat Jesus met sy dissipels gevier het, gelees. Ek het ook die gedeeltes oor Jesus se gevangeneming en kruisiging bestudeer. Toe het ek na die gedeelte in 1 Korintiërs 11:23-26 geblaai en die woorde oordink wat so dikwels tydens viering van Nagmaal voorgelees word: “Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem” (vs. 23). Ek het daar in die gees die nagmaal gebruik terwyl ek gedink het aan diegene in lande waar die evangelie verbode is en waar Christene nie saam met ander Jesus se dood kan gedenk nie. Waar jy ook al mag wees vandag en wat jou omstandighede ook al is, mag jy vreugde en vrede vind in die wete dat Christus aan die kruis vir ons betaal het. “Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26).