Toe die Fariseërs na Jesus toe gekom het met die vrou wat owerspel gepleeg het en Hom gevra het wat hulle met haar moes doen, het Hy neergebuk en op die grond geskrywe (Joh. 8:6-11). Niemand van ons weet wat Hy daar geskryf het nie, maar toe hulle aanhou om te vra, het Jesus met een kort sin geantwoord: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi” (Joh. 8:7). Jesus se paar woorde het die Fariseërs met hulle eie sondes gekonfronteer en een vir een het hulle weggestap. Ja, selfs vandag nog weerklink daardie woorde dwarsdeur die hele wêreld. Jesus het in so ’n intieme verhouding met die Vader gelewe dat Hy van Homself gesê het: “Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het” (Joh. 12:50). Ag, as ons maar in so ’n intieme verhouding met die Vader kon lewe dat ons altyd met sy wysheid kon reageer! Miskien begin dit deur Jakobus se uitdaging te aanvaar: “Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie” (Jak. 1:19). Dit beteken nie ons moet stadig wees omdat ons oningelig, huiwerig of skuldig is nie, nee, dis die langsaamheid wat uit wysheid gebore word, as gevolg van noue gemeenskap met ons Here, sodat ons kan hoor wat Hy sê. Ons word dikwels vermaan om eers te dink voordat ons praat. Ek dink ons moet verder gaan en voortdurend luister na God se stem en sy wysheid vra.