Diana en Dave hou daarvan om op sonnige dae met hulle straalski’s op die meer te ski en oor die water te gly. Maar een oggend was die weer koel en bewolk en Diana kon nie vir Dave ompraat om te gaan ski nie. Toe het sy op haar eie gegaan. Dit was so koud dat sy oor die meer heen en weer geski het in ’n poging om in die sonskyn te kom. Maar elke keer wanneer sy in ’n kol sonlig gekom het, het dit wegbeweeg en is dit deur skadu vervang. Sy het eindelik ingesien dat dit vrugteloos is om die sonskyn na te jaag en haar pogings gestaak. Koning Salomo het iets anders as Diana nagejaag en dit het hom ook nie tevredenheid gebring nie (Prediker 2:1). In die eerste 11 verse van Prediker 2 noem hy op wat hy alles nagejaag het: plesier, om te lag, wyn, wysheid, huise, tuine, geld, besittings en musiek. Maar toe hy al hierdie dinge later geëvalueer het, het hy ontdek dat dit “’n gejaag na wind” (Prediker 2:11) is en dat niks hier op aarde regtig bevredig nie. Daarom het hy uiteindelik tot die verstandige gevolgtrekking gekom: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word” (Prediker 12:13). Is jy besig om party van hierdie dinge wat Salomo nagejaag het, te begeer? Dis ’n tevergeefse poging. Tevredenheid en rus kom slegs deur die Here te ken en Hom te gehoorsaam.