Wanneer mense met ’n sug sê: “Beloftes, beloftes,” is dit gewoonlik nadat hulle teleurgestel is deur iemand wat nie ’n belofte nagekom het nie. Hoe meer dikwels dit gebeur, hoe groter die hartseer en hoe dieper die sug. Het jy al ooit gevoel dat die Here nie sy beloftes nakom nie? Dis ’n houding wat baie subtiel en geleidelik ontwikkel kan word. Nadat God vir Abraham belowe het: “Ek sal jou ’n groot nasie maak” (Genesis 12:2) het 25 jaar verloop voordat sy seun Isak gebore is. (Gen. 21:5). Gedurende daardie wagtydperk het Abraham vrae aan die Here gestel ten opsigte van die feit dat hy geen seun gehad het nie (Gen. 15:2). Hy het selfs sover gegaan dat hy ’n kind by Sara se diensmeisie, Hagar, verwek het (Gen. 16:15). Maar ten spyte van al die vrae, het God Abraham steeds aan sy belofte herinner – die belofte dat Hy aan hom en Sara ’n seun sou gee. Hy het Abraham steeds opgeroep om op Hom te vertrou en te glo dat Hy wel sy belofte sou nakom (Gen. 17:1,2). Wanneer ons ’n belofte van God in die Bybel vir onsself toeëien, of dit nou vir moed, voorsiening óf wat ook al mag wees, dan plaas ons onsself in God se hande en op sy tydskedule. Terwyl ons wag, mag dit somtyds vir ons voel dat God ons vergeet het. Maar vertroue beteken dat ons aan sy beloftes vashou in die wete dat Hy getrou bly. Die vertroue is ons s’n, maar die tydsberekening Syne.