’n Paar jaar gelede het Citicorp, ’n bankgenootskap, ’n aantal reklameborde oor finansies aangebring. “Geld verwissel van hande – pas net op dat dit jou nie verander nie!” “Indien mense sê dit lyk of jy van geld gemaak is, moet jy aan jou persoonlikheid werk.” Hierdie advertensies het ’n nuwe perspektief op rykdom gegee. God het ook ’n verrassende siening van rykdom. Uit sy oogpunt gesien kan jy “welaf” wees wat aardse besittings aanbetref, maar uiters arm ten opsigte van die toestand van jou siel. Of jy kan brandarm ten opsigte van aardse rykdom wees, maar skatryk wat God se standaarde aanbetref. Die vernietigende krag van rykdom herinner my aan die verhaal van die ryk jongman. Nadat hy met Jesus oor die ewige lewe gepraat het, het Jesus gesê hy moes sy aardse besittings verkoop, die geld aan die armes gee, en Hom navolg. Maar ongelukkig het die man “bedruk weggegaan” (Markus 10:22) want hy het baie besittings gehad. Dit het daartoe gelei dat Jesus ’n waarskuwing aan die dissipels gerig het: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom” (Mark.10:23). Dis nie dat Jesus teen rykdom gekant is nie. Maar Hy is bedroef as enigiets tussen ons en Hom staan. Ons mag hard werk en geld maak, maar as dit die hoofdoel van die lewe word, dan bedroef ons Hom. Plaas Hom eerste, dis die sleutel tot ware rykdom.