Isaac Hann was ’n onbekende pastoor wat gedurende die 18de eeu in ’n klein kerkie in Loughwood, Engeland, as leraar gedien het. Aan die einde van sy bediening het sy gemeente uit slegs 26 vroue en 7 mans bestaan. Slegs vier van die mans het die eredienste redelik gereeld bygewoon. In hierdie dae van groot kerke en gemeentes, wie sou Hann se bediening as suksesvol beskou? In die wêreld waarin ons vandag lewe sal Isaac Hann beskou word as een van die leraars wat dit “nie gemaak het nie.” Hy sou nie genooi word om by konferensies en seminare op te tree nie, en hy sou nie artikels oor kerkgroei geskryf het nie. En tog, toe hy in die ouderdom van 88 oorlede is, het sy gemeentelede ’n besondere gedenkplaat vir hom in die kerksaal opgerig. Die plaat is vandag nog daar: Min predikers was so nederig, en min so hoog waardeer. Hy is deur genade vir die hemel voorberei, en soos herfsvrugte het hy gegaan. Leser, moenie begeer so lank te lewe nie, maar soos hy die weg te baan. Hierdie gebeure laat ons aan 1 Petrus 5:5-6 dink: “God weerstaan die hoogmoediges maar aan die nederiges gee Hy genade. Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het.” Isaac Hann het nederigheid voor God getoon en die hemelse beloning ontvang. Indien ons ware nederigheid toon, kan ons dit ook ontvang.