Gedurende Maart 2009 is ’n dame van 62 jaar aangekla dat sy die bedrag van $73,000 van ’n kerk in Washington gesteel het. Toe speurders haar ondervra, het sy gesê: “Satan het ’n groot aandeel in die diefstal gehad,” Dit het geklink asof sy wou beweer dat Satan haar gemotiveer het om dit te doen. Satan kon miskien ’n rol gespeel en ’n bydrae gelewer het, maar sy het ’n foutiewe denkrigting aangaande versoeking en sonde gehad. Die duiwel toets gelowiges en versoek hulle, maar hy forseer hulle nie om sonde te doen nie. Ons lees in Jakobus se brief dat dit ook nie God se skuld is as ons sondig nie: “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie” (Jak.1:13). God is goed en Hy is heilig. Wie moet dan die skuld dra vir ons sonde? Jakobus sê: “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep” (Jak.1:14). Net soos ’n visterman lokaas gebruik om ’n vis te vang, so sal ons eie onbeheerde luste en begeertes ons tot sonde verlei. Wanneer ons ongehoorsaam aan die Here is en sondig, mag ons nie die skuld na iemand anders verskuif en onsself regverdig nie. Ons mag nie aanvoer dat “die duiwel ons dit laat doen het” nie. Laat ons verantwoordelikheid vir ons dade neem, dit bely en weet dat ons genadige Vader ons sal vergewe en herstel.