Dit bly vir my ongelooflik dat ons die hemelruim kan binnedring en dit ondersoek. Maar dink net wat ’n vermorsing dit sal wees as ons ’n ondersoek van Mars wil doen, maar onderweg daarheen, gooi ’n ander minderbelangrike voorwerp se aantrekkingskrag ons planne omver. Pasop! Dis iets wat maklik in ons lewe kan gebeur! Toe Jesus sy dissipels geroep het om Hom te volg, het Hy bedoel dat hulle ’n reis moes begin wat hulle met passie en toewyding sou voltooi. Volgelinge van Christus is in ’n baan geplaas wat hulle steeds nader aan Hom sal bring. Nogtans gebeur dit soms dat ons aandag afgetrek word en ons toegee aan die aantrekkingskrag van ander minderbelangrike dinge. Wanneer dit gebeur, hou ons op om Hom te volg en dan word ons aandag deur leë en onbevredigende dinge in besit geneem. Psalm 63 is ’n genesing vir lewens wat reeds van koers af geraak het. Dawid het God gevolg, want Hy het geweet dat God alleen sy innerlike behoeftes kan vervul want sy “troue liefde is meer werd as die lewe” (vs. 4). Die vreugde van God se teenwoordigheid het elke oomblik in besit geneem. “As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ’n hulp” (vs. 7,8). Dawid het verstaan dat ware vreugde slegs moontlik is as ons die Here van naby volg en nie op ’n veilige afstand bly nie. Kom ons kom terug op die pad en jaag ’n nouer wandel met God na.