Toe Jesus beveel het dat ons “nie moet oordeel nie”, het hy nie bedoel dat ons naïef of onverskillig moes wees nie. Natuurlik moet ons krities en analities wees en standpunt inneem in hierdie wêreld waar sake so maklik verkeerd loop en sonde volg. Wat Hy eintlik bedoel het, is dat ons nie veroordelend en aanvallend moet wees nie, iets wat Paulus ook baie duidelik gestel het: “Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ’n oordeel uitspreek nie” (1 Korintiërs 4:4,5). Die digter, Robert Burns, het ook iets in dié verband geskryf : “Daar is nog een punt in die duister – die motief. Waarom het hy dit gedoen?” Niemand van ons ken ’n ander se hart en motiewe nie. God alleen kan lig te voorskyn bring waar alles donker lyk. Hy ken die bedoeling van elke hart. Jesus weet van die sluimerende magte wat motiewe kan beheer: wrede herinneringe, vrees, teleurstellings, die gebroke hart, sonde wat teengestaan is. Boonop is Hy besig om in elke hart wat aan Hom toegewy is te werk, om dit tot volwassenheid te bring. Dus kan dit wees dat Hy eindelik – heel teen ons verwagting in, lof sal bring aan iemand in wie se lewe Hy sy doel bereik het. Die Here alleen ken die hart van elke mens. Totdat Hy terugkeer, laat ons Hom vra om ons te help om ons eie hart te ondersoek in plaas van om ander mense te oordeel.