Die wonderwerke wat Moses gedoen het, was ’n uitdaging vir die baie afgode van Egipte. Tog was daar in ’n stadium ’n Farao wat die geloof in net een god verkondig het. Farao Akhenatan het na die opkomende son gewys en gesê dit is die groot god wat lewe aan die wêreld gee. Hy het die songod Aton genoem en die simbool waardeur hy na Aton verwys het, was ’n enkele ligbron waaruit verskillende strale voortgekom het. Alhoewel hierdie Farao se idee van die godheid nader aan die waarheid was, was dit nogtans afgodery. Toe Paulus die mense in Atene aangespreek het, was hy hartseer oor hulle afgodery. Nogtans het hy die mense se gebrekkige begrip van God gebruik om hulle na die ware God heen te wys. Van hulle pogings om God te vind, sê Paulus: “God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het … woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie” (Handelinge 17:24). In die gekompliseerde wêreld waarin ons vandag woon, mag die mense om ons ’n magdom van afgode aanbid. Maar hulle geestelike reis hoef nie daar te eindig nie. Ons weet nooit of iemand besig is om in die rigting van God te beweeg nie. Daarom is dit wys om Paulus se voorbeeld te volg. Respekteer die ander persoon se godsdienstige agtergrond, maar wees op die uitkyk vir geestelike ontvanklikheid. Indien dit daar is, wys dan die persoon na die enigste ware Here, die God van die Bybel.