Die rolprent Miracle vertel die ware verhaal van die VSA se Olimpiese Yshokkie span en die onwaarskynlike goue medalje wat hulle in 1980 verower het. Aan die begin van die film word gewys hoe die afrigter, Herb Brooks, die span saamstel. Toe hy aan sy assistent afrigter die lys name van sy keuse gee, is Craig Patrick baie verbaas: “Jy het ’n paar van die beste spelers uitgelaat!” Brooks antwoord toe: “Ek soek nie die beste spelers nie, maar die regte spelers.” Brooks het geweet dat indiwiduele talent die span net tot op ’n punt sou neem. Die gewilligheid om as span saam te speel, en nie op eie prestasie te fokus nie, sou die span baie verder bring. Die span se sukses, nie indiwiduele prestasie nie, was Brooks se prioriteit. Die Bybelse oproep tot diens het ’n soortgelyke klem. In God se beplanning het elke gelowige sy of haar rol om te speel, maar die resultate is span-georiënteerd. Nadat Paulus die verskillende geestelike gawes wat gelowiges van God ontvang, beskrywe het, sê hy: “Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Korintiërs 12:7). Wanneer elkeen van ons die gawes wat God aan ons gee, gebruik, word sy doelstellings verwesenlik. In God se diens gaan dit nie oor wie die beste doen en die mees talentvolle is nie, maar om die regte persone te wees wat op die regte plek is “soos Hy dit wou hê” (1 Korintiërs 12:18).