Gedurende 2008 moes daar ’n kampioenskap sokkerwedstryd tussen twee Christenskole, Azusa Pacific University en Westmont College gespeel word. Drie dae tevore het ’n veldbrand deur die Westmont kampus getrek en verskeie akademiese geboue, huise en studentelokale vernietig. As gevolg daarvan was dit onmoontlik vir Westmont om die wedstryd op hulle veld aan te bied en die reëls het vereis dat Westmont die punte moes prysgee. Maar toe bied Azusa aan dat die wedstryd op hulle veld gespeel kon word. Hulle het die Westmont ondersteuners hartlik verwelkom en vrye toegang en middagete aangebied. Op die veld was dit Westmont wat met 2-0 geseëvier het, terwyl Azusa baie lof ontvang het vir hulle sportiewe gesindheid. Die joernalis van die Los Angeles Times het geskryf: “Daar was nog selde in die sport van Suidelike Kalifornië ’n meer sportiewe gesindheid geopenbaar. Azusa Pacific het die kans om hulle titel te behou, opgeoffer en aan Westmont die geleentheid gebied om dit van hulle af te neem. Net so indrukwekkend as wat die veerkrag van die oorwinnaars was, net so besonders was die gesindheid van die verloorders.” So dikwels dink ons dat dit altyd net geld is waarvan die Bybel praat wanneer daar gesê word ons moet met blymoedigheid gee (2 Korintiërs 9:7). Maar om ander ’n kans te bied en gasvryheid te toon, maak albei partye wenners.