“Dis onregverdig!” Of jy dit al gesê het, of net gedink het, jy moet erken, dis moeilik om te sien dat iemand met iets wegkom en nie kry wat hy verdien nie. Ons leer dit van kindsbeen af. Vra net vir die ouer van enige tiener. Kinders haat dit dat hulle broers of susters loskom as hulle oortree het. Dis ook die rede waarom hulle mekaar so maklik beskuldig. Maar, om eerlik te wees, ons ontgroei nooit regtig hierdie neiging nie. Volgens ons siening beteken regverdigheid dat sondaars die straf van God verdien en ons, die goeie mense, sy lofprysing! Maar indien God “regverdig” sou wees, sou ons almal sy straf moes verduur. Daarom kan ons baie dankbaar wees dat Hy nie ”met ons [handel] … volgens ons sondes nie” (Psalm 103:10). Ons behoort dankbaar en nie ontevrede te wees dat God verkies om genade te betoon en nie straf te voltrek nie, dat Hy gewillig is om genadig te wees, selfs teenoor diegene wat hopeloos verlore en onverdienstelike sondaars is! En terwyl ons daaraan dink, wanneer laas het ek en jy toegelaat dat genade oor verdienstelikheid seëvier teenoor iemand wat teen ons oortree het? Dis nie God se regverdigheid nie, maar sy genade wat Hom daartoe dryf om ons te soek, sodat daar vreugde in die hemel kan wees wanneer Hy ons gevind het (Lukas 15:7). Ek is so dankbaar dat God nie “regverdig” met my is nie, maar genadig! En wat van jou?